Alane

Alane

Totale bevolking: n.v.t.
Belangrike bevolkings  in: n.v.t.
Taal: Oos-Irans
Geloofsoortuiging: Heidendom;
ná 4de-5de eeu: Arianisme;
Middeleeue: Oosters-Ortodoks
Verwante etniese groepe: Massagete

Die Alane of Alani was in die oudheid ’n Iranse nomadiese volk.[1][2][3][4][5]

Die naam is ’n Iranse dialekvorm van "Ariërs", ’n algemene naam onder Indo-Irannese vir hulself.[2] Hulle is moontlik verwant aan die Massagete en word ook deur moderne historici verbind met die Sentraal-Asiatiese Yancai en Aorsi van onderskeidelik Chinese en Romeinse bronne.[6] Hulle het weswaarts migreer en aansien verwerf onder die Samatiërs op die Pontiese Steppe, en is in die 1ste eeu n.C. in Romeinse bronne genoem.[1] In dié tyd het hulle hulle in die streek noord van die Swartsee gevestig en dikwels strooptogte uitgevoer op die Partiese Ryk en Kaukasiese provinsies van die Romeinse Ryk.[1] In 215-250 n.C. is hul mag op die Pontiese Steppe deur die Gote verbreek.[4]

Ná die Hunne se oorwinning oor die Gote op die steppe omstreeks 375 n.C. het baie Alane saam met verskeie Germaanse volke weswaarts migreer. Hulle het die Ryn in 406 n.C. oorgesteek saam met die Vandale en Suebi, en hulle in Orléans en Valence gevestig. Omstreeks 409 n.C. het hulle die Pireneë saam met die Vandale en Suebi oorgesteek na die Iberiese Skiereiland.[7] Die Iberiese Alane is in 418 deur die Wes-Gote verslaan.[8] Hulle het toe Gunderik, die koning van die Vandale, as koning van die "Vandale en Alane" aanvaar. In 428 het die Vandale en Alane die Straat van Gibraltar oorgesteek na Noord-Afrika, waar hulle ’n magtige koninkryk gevestig het wat bestaan het tot die oorname daarvan deur die Bisantynse keiser Justinianus I in die 6de eeu.[8]

Die Alane wat onder die Hunne se heerskappy gebly het, het in die Middeleeue ’n magtige koninkryk in die Noord-Kaukasus gestig wat geëindig het met die Mongoolse verowering in die 13de eeu. Daar word geglo hierdie Alane is die voorouers van die moderne Ossetiërs.[1]

Die Alane het ’n Oos-Iranse taal gepraat wat ontstaan het uit Skities-Sarmaties en eindelik ontwikkel het in moderne Osseties.[2]

  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 "Alani" (in Engels). Encyclopædia Britannica Aanlyn. 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 November 2013. Besoek op 1 Januarie 2015.
  2. 2,0 2,1 2,2 "ALANS". Encyclopædia Iranica (in Engels). Bibliotheca Persica Press. 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 April 2020. Besoek op 16 Mei 2015.
  3. Waldman & Mason 2006, pp. 12–14
  4. 4,0 4,1 Brzezinski & Mielczarek 2002, pp. 10–11
  5. Zadneprovskiy 1994, pp. 467–468
  6. Zadneprovskiy, pp. 465–467
  7. "Spain: Visigothic Spain to c. 500". Encyclopædia Britannica Aanlyn. Encyclopædia Britannica, Inc. 2015. Besoek op 1 Januarie 2015.
  8. 8,0 8,1 "Vandal". Encyclopædia Britannica Aanlyn. Encyclopædia Britannica, Inc. 2015. Besoek op 1 Januarie 2015.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search